Gebore om te sing

Ek was omtrent so 5 jaar oud toe my oom hom altyd verkneukel het in my spontane sang.  Die liedjie was iets soos “Dit laat my so leeeekker sing.  My sonde is vergewe en ek gaan vir ewig lewe.  Dit laat my so lekker sing”.  Dan het hy my betaal daarvoor.  Dit het my laat besef dat daar waarde aan my stem gekoppel is.

 

Sang het deel van my lewe geword.  Ek het alles wat ek wou sê in liedjies omgesit.  Mense het begin luister.  Operette’s, skoolkoor en solo’s het my hoogtepunte geword.  Toe ek in ons matriekjaar ‘n solo-deel moes sing en die gehoor staan op… ek kon huil.

 

As mamma het ek baie tyd aan manlief en kinders spandeer.  Dit het ook so gehoort.

 

Ons het altyd op Ou Kersaande gesing.  Ek en my pa het die aand afgesluit met Jerusalem.  Hy is 7 dae later op 31 Desember 1998 in ‘n tref en trap ongeluk oorlede.

Iets hier binne my het my gedryf om Jerusalem op sy begrafnis te sing.  Die kerk was vol en ek was bang, maar engele het my gedra en ek dink nie ek het Jerusalem al ooit weer so mooi gesing nie.

 

Dit het tot gevolg gehad dat ek op 34 jarige ouderom opleiding aan die Konservatorium ontvang het o.l.v. Magdalena Oosthuizen.

 

Agt albums, benoemings en staande ovasies was my motivering om aan te hou.

 

Ek blom beslis in die najaar, maar God weet die beste.  Hy het dit so beskik.

Leave a Reply