My Blog

DIE MEETSNOERE HET VIR MY IN DIE

BESTE VOUE GEVAL

My kreatiewe kant word gestimuleer en die uitdaging van klassiek sal altyd daar wees.

My nuwe geestelike album, Die Kroon van die Skepping, breek weer ‘n nuwe seisoen oop.  Tussen Canola-lande, groen koringlande en ‘n amper pers berg, word die Kroon van die Skepping ‘n melodie. Mag hierdie album vir elkeen wat dit hoor, ‘n geestelike ervaring wees.

My nuutste uitdaging!  Belia sing Janita Claassen.  Hierdie geliefde sangeres het ‘n skatkis vol liedjies agtergelaat wat nie vergeet mag word nie.  Ek het hulle afgestof en ‘n vars nuwe opname van haar 10 beste liedjies gedoen.

My grootste uitdaging was om Janita te eer, maar om soos Belia te klink.

Gaan leen jou ore gerus vir hierdie musiek en jy sal soos ek van vooraf verlief raak daarop.

Soos stukkies in ‘n legkaart, so het my musiekloopbaan tot hier verloop.  Die laaste 5 albums het ‘n stewige staanplek in die verskillende genres van die musiekbedryf gekry.

Kom dan Klaradyn, Tsotsi-Evangelie, Stroeslove, Leef het almal goeie resensies ontvang.  Hierop het ook KKNK produksies gevolg, landwye konserte en ook 3 benoemings vir die Tsotsi-Evangelie.  Die nuutste album op die winkelrakke is Die Kroon van die Skepping.  Ek kon  gemaklik tussen die verskillende genres beweeg.

Gebore om te sing

Ek was omtrent so 5 jaar oud toe my oom hom altyd verkneukel het in my spontane sang.  Die liedjie was iets soos “Dit laat my so leeeekker sing.  My sonde is vergewe en ek gaan vir ewig lewe.  Dit laat my so lekker sing”.  Dan het hy my betaal daarvoor.  Dit het my laat besef dat daar waarde aan my stem gekoppel is.

Sang het deel van my lewe geword.  Ek het alles wat ek wou sê in liedjies omgesit.  Mense het begin luister.  Operette’s, skoolkoor en solo’s het my hoogtepunte geword.  Toe ek in ons matriekjaar ‘n solo-deel moes sing en die gehoor staan op… ek kon huil.

As mamma het ek baie tyd aan manlief en kinders spandeer.  Dit het ook so gehoort.

Ons het altyd op Ou Kersaande gesing.  Ek en my pa het die aand afgesluit met Jerusalem.  Hy is 7 dae later op 31 Desember 1998 in ‘n tref en trap ongeluk oorlede.

Iets hier binne my het my gedryf om Jerusalem op sy begrafnis te sing.  Die kerk was vol en ek was bang, maar engele het my gedra en ek dink nie ek het Jerusalem al ooit weer so mooi gesing nie.

Dit het tot gevolg gehad dat ek op 34 jarige ouderom opleiding aan die Konservatorium ontvang het o.l.v. Magdalena Oosthuizen.

Agt albums, benoemings en staande ovasies was my motivering om aan te hou.

Ek blom beslis in die najaar, maar God weet die beste.  Hy het dit so beskik.