Wie is ek?

Belia woon huidiglik op Porterville en is dol oor die plattelandse lewe.  Haar man, Piet is fanaties oor sy perde en koets wat ook vir Rolene Strauss, mej Wêreld op haar troudag verras het.  Hul het twee dogters, beide in die onderwys en getroud met die allerbeste skoonseuns.  Bowenal het sy ook drie pragtige kleinseuns.   “My wêreld is ‘n sprokie.  God het vir my ‘n ongelooflike deel afgemeet”.

Belia het eers op 34-jarige ouderdom haar opleiding aan die Konservatorium van Stellenbosch gekry.  “Ek blom in die najaar”.  Hierna het die een na die ander cd op die winkelrakke verskyn.  Sy beskryf die Tsotsi-Evangelie CD as een van haar hoogtepunte.  Hierdie album het dan ook verskeie benoemings ingepalm.  “Die toonsettings was so natuurlik.  Dit het dood eenvoudig uit my siel gevloei.”

Haar nuutste album “Belia sing Janita Claassen” bring hulde aan ‘n geliefde sangeres en haar skatkis vol liedjies.  “Dit was moeilik om te besluit watter liedjies nuut verwerk en opgeneem sal word.  Uiteindelik kon ons liedjies soos Rolbos van verlange, Hardloop my Kind, Meisiekind, Reëndruppels ens met hedendaagse tegnologie splinternuut maak.  My grootste uitdaging was om hulde te bring aan Janita, maar om soos Belia te klink.

My nuutste optrede – ‘n Skatkis vol juwele – sing ek uit die skatkis van liedjies van Janita, maar gesels ook tussendeur oor die juwele in jou lewe.  Prettig, lighartig met genoeg pitkos om huis toe te neem.”

“My geestelike album, Die Kroon van die Skepping, lê my baie na aan die hart. Mag ook jy geestelike inspirasie hieruit kry.”

“My eerste prioriteit is gehoorsaamheid aan God.  Hy het my geleer om deur depressie te leef!”  Ek leef lig.  Meer as dit, ek vang die lig!”

In Hebreeus beteken Belia – Belofte van God.  “Ek hou vas daaraan.”